SENSEI BERNARD SE SA JKA DOJOS SLUIT UITSONDERLIKE 2025 AF EN MIK HOOG VIR 2026

Heidelberg en Nigel se SA JKA Karate Dojos onder leiding van Sensei Bernard Raubenheimer het 2025 met oortuigende prestasies, sterk groei en uitstaande kampioenskapsukses afgesluit – ’n verdere bevestiging waarom hierdie dojos al dekades lank as die maatstaf vir karate in die streek beskou word.

Die Heidelberg Dojo, wat vanjaar sy 51ste bestaansjaar vier, is een van die oudste én mees suksesvolle karateklubs in Suid-Afrika. Oor vyf dekades heen is hier talle swartgordels gekweek wat vandag oor die land versprei is – baie as leiers, professionele persone en rolmodelle. “’n Klub bereik nie sommer 51 jaar met so ’n rekord sonder harde werk, dissipline en ’n vaste waardestelsel nie,” sê Sensei Bernard. “Ons fokus was nog altyd kwaliteit bo kwantiteit.”

Sensei Bernard, tans sesde dan, is al meer as 50 jaar by JKA karate betrokke en het in 1988 as afrigter gekwalifiseer. Hy is ’n internasionaal gekwalifiseerde afrigter, eksaminator en A-klas internasionale skeidsregter – een van slegs sewe in SA JKA. Hy woon jaarliks klasse en seminare by, onder leiding van senior meesters soos Ogura Yasunori Shihan, Okuma Koichiro Shihan, Keith Geyer Shihan en Taniyama Takuya Sensei, en woon selfs twee keer per week die vroeë oggend instrukteursklasse by Wanderers by. “As afrigter moet jy self aanhou leer – dit is die enigste manier om karatekas na hul volle potensiaal te neem,” benadruk hy.

Prestasies wat spreek

Op die kompetisiefront het die dojos in 2025 briljant gevaar. By die Gauteng Kampioenskappe het 67 karatekas Gauteng-kleure verwerf en 57 medaljes gewen. Tydens die SA Kampioenskappe, wat ook as Afrika Kampioenskappe gedien het, is 30 medaljes verower; 25 karatekas het Nasionale Kleure ontvang, terwyl 10 as Afrika Kampioene gekroon is.

By die Syndicate Kampioenskappe en die Sensei Dries la Grange Memorial Kampioenskappe – een van die grootste nie-provinsiale toernooie in die land – het die twee dojos saam ’n verstommende 165 medaljes ingepalm teen sterk mededinging van 19 dojos.

Groei, graderings en dissipline

In 2025 is drie intensiewe graderings suksesvol afgehandel. Tydens die Nasionale Swartgordelgraderings het die dojos agt nuwe shodans en een nidan bygekry. Altesaam 25 swartgordels oefen tans by die Heidelberg- en Nigel-dojos, met 10 karatekas wat in 2026 na hul volgende swartgordelvlakke mik. Uit ’n ledetal van 131 is daar tans 37 seniors van bruin- tot swartgordelvlak.

Die jaar is afgesluit met die sesde jaarlikse Ratel-uitdaagkompetisie, waar 85 karatekas hul uithouvermoë en fiksheid tot die uiterste beproef het. Daarna het die jaareindfunksie gevolg, sertifikate is oorhandig, 44 trofeë toegeken en gepaste afskeid is geneem van matrikulante wat hul karatepad in Heidelberg begin het.

Karate vir oud en jonk

Sensei Bernard beklemtoon dat karate vir almal is – van die Dinkies (voorskoolse groep) wat op hul eie tempo bekendgestel word aan die sport, tot volwassenes wat fiksheid, fokus en selfvertroue wil bou. SA JKA Shotokan karate leef die vyf kernbeginsels uit: karakter, opregtheid, toewyding, etiket en selfbeheersing. “Karate bou nie net ’n sterk liggaam nie, maar ook ’n gesonde gees,” sê hy.

2026: Die pad vorentoe

Met heropening op 14 Januarie 2026 begin voorbereidings dadelik vir die Gauteng Kampioenskappe in Maart, swartgordelgraderings en moontlike internasionale deelname aan die Indo-Pacific Open Championships in Mauritius.

Belangstellendes hoef nie verder te soek nie: daar is geen afsnydatum om by die klub aan te sluit nie, en nuwe karatekas kan die eerste vier klasse gratis bywoon. Meisies, seuns, vroue en mans – vyf jaar en ouer – is welkom.

Oefentye:
* Heidelberg Dojo: Maandae tot Donderdae by Hoër Volkskool
* Nigel Dojo: Maandae en Woensdae by die NG Moedergemeente kerksaal

Navrae: Sensei Bernard – 083 489 8231

Met ’n onklopbare rekord, beproefde afrigting en ’n kultuur van dissipline en respek, bly Sensei Bernard se SA JKA Dojos die enigste ernstige keuse vir karate in Heidelberg en Nigel. Begin jou karateloopbaan hier vanjaar!